Ons het ‘n baie matige winter gehad in Kaapstad, maar op die koudste, natste, gryste dag moes ek vroegoggend aanmeld by Nooitgedacht wynplaas. Gewoonlik is ‘n besoek aan ‘n wynplaas ‘n prettige affêre, maar op die oggend het ek maar baie senuweeagtig uit my kar geklim. Die rede vir my onwilligheid was dat ek na maande van wik en weeg, uiteindelik besluit het om deel te neem aan die VIA program “Jy het ‘n wenresep” en die verfilming van die episode waaraan ek sou deelneem het op die ysige dag plaasgevind.
Ek is gelukkig vining op my gemak gestel deur die uiters professionele filmspan. Na ‘n lekker koppie koffie het ons begin voorberei vir ons groot kook. Die voorbereiding moes buite gedoen word onder ‘n gazebo en ek was baie dankbaar vir my dik baadjie en warm boetse.

As jy nie die term “Wenresep” nie ken nie, dan weet jy beslis niks van kos af nie! 🙂 Huisgenoot publiseer al vir jare weekliks ‘n wenresep vanuit resepte wat vanaf lesers ontvang word en in die Huisgenoot se toetskombuis beproef word. Daar is ook agt Wenresepte kookboeke gepubliseer en ek besit AL agt en gebruik die boeke gereeld vir inspirasie.
Carmen Niehaus is al vir meer as 25 jaar die kosredaktrise by Huisgenoot en meeste van die Wenresepte boeke is deur haar gepubliseer. Sy het al meer as 20 kookboeke gepubliseer en is beslis ‘n koskenner van formaat. Sy is ook die aanbieder en die beoordeelaar van die program. Haar vriendelike, hulpvaardige en uiters regverdige houding boesem vertroue in en het ook gehelp om my ‘n bietjie meer op my gemak te stel.

Die persoon wat ons kos mooi laat lyk het met haar stillering, Anida van der Spuy, het ook alles in haar vermoë gedoen om die dag so aangenaam as moontlik vir ons te maak.

My twee mededeelnemers was die twee oulikste girls en ons het baie lekker geklets en gekuier tussen die film opneem deur. Ek en Christina Jacobs het baie in gemeen gehad omdat ons albei vir jare lank ons eie koffiewinkels besit het. Christina is ook ‘n Interieur ontwerper en haar praghuis was onlangs tentoon gestel in die Tuis tydskrif. Bianca du Plessis en ek het albei kosblogs en Bianca, net soos my twee dogters, is in die sosiale media bedryf. Bianca is ook een van die aanbieders van die program DIS, wat ook op VIA vertoon word.


Bianca se vark burger met guacamole is aangewys as die wenresep. Ek was natuurlik nie baie gelukkig om te verloor nie, want ek het defnitief ‘n vreeslike mededingende persoonlikheid, maar moes toegee dat die burger heerlik was en beslis die wenresep moes wees! Die resep is beskikbaar in die Huisgenoot wat tans te koop is. Daar word ook na elke reeks ‘n boek gepubliseer met al die deelnemers se resepte in. Wees op die uitkyk daarvoor, later die jaar. Christina se hoender en botterskorsie resep sal in dit beskikbaar wees, en glo my jy WIL haar quiche probeer!


Heelwat mense het my gevra hoekom ek juis op die spesifike resep beluit het. Drie van my gunsteling bestandele is pasta, broccoli en sampioene. Ek wou nog altyd iets maak wat hierdie drie bestandele bevat. Nadat ek ‘n pastagereg op ‘n Durbanville wynplaas geëet het, wat soortgelyk aan dié gereg was, het ek besluit om dit na te maak en my proefkonyne het gedink dit was heerlik. Die kritria waaraan die wenresep moet voldoen en waaraan dit beoordeel word is vars en bekostigbaarheid, hoe vining dit gemaak kan word, dit moet gesond wees, dit moet vernuwend wees en natuurlik die belangrikste is dat dit smaaklik moet wees. Alhoewel hierdie baie goeie beoordelings kriteria is, klink dit makliker as wat dit is. Ek het heelwat resepte beproef maar dit het of te veel tyd in beslag geneem om te maak, of dit was te duur, of nie gesond genoeg nie! Omdat die resep wat ek oorspronklik wou maak pasta EN room bevat het, het ek ter laaste minuut besluit om dit te verander na ‘n gebakte gereg en om die pasta uit te laat, om dit gesonder te maak. In ‘n poging om dit meer bekostigbaar te maak het ek die hoeveelheid pesto wat gebruik word verminder. Dit het my duur te staan gekom en my gereg was nie geurig genoeg nie!

As jy van kosmaak hou en dink jy het ‘n Wenresep skryf gerus in om aan die program deel te neem; dit was regtig baie pret! Kyk ook die program wat Woensdae om 18:30 op VIA (kanaal 147) vertoon word.
Ek gee die resep vir my oorspronklike pastagereg, hier. Dit smaak natuurlik op sy beste indien jy tuisgemaakte pasta gebruik asook jou eie basilliekruid pesto maak. Om tyd te bespaar gebruik ek winkel bestandele.

PASTASOUS
30ml olyfolie
45ml botter
600g hoender filette in repies gesny
250g knopie sampioene
90ml basilliekruid pesto
250ml hoender aftreksel
500g broccoli
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
250ml room
PASTA
250g tagliatelle (gekook volgens die instruksies op die pakkie)
GARNERING
Feta kaas gekrummel (2 wiele)
Vars basilliekruid blare
Verhit die olyfolie en botter in ‘n swaarboompan. Roerbraai die hoender filette tot bruin.
Voeg die sampioene by en braai ook tot bruin.
Voeg die basilliekruid pesto by en meng deeglik sodat alle hoenderstukke en sampioene met die pesto bedek is.
Voeg die hoender aftreksel en broccoli by en geur met sout en varsgemaalde swart peper.
Prut op lae hitte vir 10 minute.
Voeg die room by en verhit maar moenie kook nie.
Skep oor die gaar pasta en krummel die feta bo-oor en garneer met vars basilliekruid blare.
VARIASIES:
- Gebruik gespiraliseerde babamurgpampoen in die plek van die pasta indien jy ‘n lae koolhidraat dieet volg.
- Voeg 2 fyngekapte brandrissies saam met die pesto by indien jy ‘n dis met ‘n bietjie brand verkies.
- Gebruik ‘n ander tipe pesto soos rokketpesto of koljanderpesto om die geur van die dis te varieer.
Om die gereg meer gesond te maak het ek besluit om dit sonder pasta te bedien. Pasta is beslis een van my gunsteling goed maar ek probeer banting en wil vir ‘n paar maande pasta vermy! Die gebak word bedien met ‘n slaai.

HOENDER EN BROCCKOLI GEBAK
30ml olyfolie
45ml botter
600g hoender filette in blokkies gesny
250g knopie sampioene
45ml basilliekruid pesto (vermeerder na 90ml!)
250ml hoender aftreksel
500g broccoli
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
250ml room
45ml pecorino of parmesan kaas
GARNERING
Vars basilliekruid blare
Voorverhit die oond na 180⁰C.
Verhit die olyfolie en botter in ‘n swaarboompan. Roerbraai die hoender en sampioene vir 3 tot 4 minute tot bruin.
Voeg die basilliekruid pesto by en meng deeglik sodat alle hoenderstukke en sampioene met die pesto bedek is.
Voeg die hoender aftreksel en broccoli by en geur met sout en varsgemaalde swart peper.
Prut op lae hitte vir om en by 8 minute, of totdat die broccoli net gaar is.
Skep die hoender mengsel in 6 individuele klein bakkies of ramekins en voeg room by.
Sprinkel die kaas bo-oor en bak vir 15 tot 20 minute in die vooraf verhitte oond.
VARIASIES:
- Voeg 2 fyngekapte brandrissies saam met die pesto by indien jy ‘n dis met ‘n bietjie brand verkies.
- Gebruik ‘n ander tipe pesto soos rokketpesto of koljanderpesto om die geur van die dis te varieer.
- Maak ‘n pesto van ertjies en garner met “pea-shoots” (vars ertjieblare).

To see this recipe in English, please go here!
The pasta, chicken, mushroom & broccoli recipe looks amazing!! I would like to print a paper friendly version. Are you able to supply one? Much appreciated, trust this is possible.
I have just posted a paper friendly version!
Lovely Zirkie…wat ‘n lekker dag was dit! Xxx
Dit was! Dankie vir jou!